Gedig - St Ives
Ek en Johan het regtig verlief geraak op St Ives terwyl ons daar was. Ek was regtig in my element daarso, het gevoel asof ek daar hoort, asof die energie daar resoneer met my siel. Die mense wat daar bly is so ontspanne en mens voel so sorgvry met die helende uitwerking van die see. Geen plek is die "ideale utopia" nie of kan mens totale saligheid bied nie, want dit gaan oor mens se state of mind waar ookal mens bly. Maar sjoe, dis 'n tipe leefstyl wat my sal pas soos 'n handskoen en 'n boheemse normaal waaraan ek gewoond sal kan raak. Ons sal regtig like om eendag daar te kan bly. Dis iets om voor te mik.
Die ysterperd galop suid-wes tussen sluimer en droom
die gevurkte waterstok in my trek styf
van pinkietoon tot maanhaarkroon
voel ek die skuimwit swel in my styg
my sorge kry voete wat sweef en swenk
nader en nader, hoogwater gedenk
my bene word ligter, dryf op branders blou son
Golwe Lig spoel salig oor my en oor hóm
Dis hier waar ek my Self weer vind,
Hier is ek tuis, ek word weer kind
Tyd om te gaan, die afskeid is rou
Totsiens te sê aan die plek wat my hou
Die ysterperd beur terug tussen hartseer en hoop
Die gevurkte waterstok in my ‘n slap gewig
Van maanhaarkroon, tot pinkietoon
Voel ek die eb in my, trek die seë in my terug.
‘n Skeur hel swart-groen af tussen my ribbekas
‘n Klam-grond kokon waar my hart eens was
Tussen wier en rots lê die turkoois spoor
Ek het my hart in St Ives verloor...
0 Comments:
Post a Comment
<< Home